
PROPVOL FEESPROGRAM VIR INNIBOS 2010
Die spreekwoord lui dat dinamiet in klein pakkies kom, en dit is beslis waar as daar na die opwindende verskeidenheid op Innibos 2010 se feesprogram gekyk word. Vanjaar se fees, wat vanaf 23 tot 26 September plaasvind is effe korter as die normale 5dag-fees van vorige jare, maar die fees val vanjaar oor ‘n langnaweek en die organiseerders het gesorg dat die fees stampvol verrassings en top vermaak is. ‘n Weeklange fees letterlik in 3 en ‘n half dae “ingeprop”!
Die fees se twee hoofborge, Standard Bank en Jacaranda 94.2 het beide hul steun aan die fees toegese met ‘n drie-jaar borgkontrak, wat die fees se volhoubaarheid ‘n aansienlike hupstoot gee.
Die feesterreinkonserte op die Standard Bank verhoog op die feesterrein is altyd ‘n hoogtepunt. Vanjaar skop die fees op Donderdag 23 September af met die Beeld Afskopkonsert, waar kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Bok van Blerk, Chris Chameleon en Eden die fees afskop met ‘n skouspelagtige openingskonsert.
Vrydagaand is die gewilde Kurt Darren en Jukebox Vriende aan die beurt. Gewilde sangers soos Gerhard Steyn, Lianie May, Ray Dylan en Emo Adams is maar ‘n paar van die kunstenaars wat op Vrydagaand die verhoog met Kurt deel.
Saterdagaand is gewoonlik een van die fees-hoogtepunte met die Jacaranda 94.2 Feeskonsert, en met top kunstenaars soos Mango Groove, Dr Victor, Juanita du Plessis, en Bobby van Jaarsveld op die verhoog is dit beslis ‘n program wat feesgangers nie durf misloop nie! Vanjaar se verrassingselement op Saterdag-aand se program skep ook groot opgewondenheid: As die musiekrolprent Mama Mia en die immergewilde musiek van ABBA een van jou gunstelinge is, mag jy Innibos eenvoudig nie vanjaar misloop nie. ABBA Forever, die treffergroep uit Europa, gaan vanjaar by Innibos die verhoog deel met Suid-Afrika se top musieksterre.
Innibos vereer jaarliks een of meer kunsenaars vir hul lewenslange bydrae tot die Suid Afrikaanse kunste. Vanjaar word hierdie toekenning op Saterdag-aand aan David Kramer toegeken, en hy sal ook op die aand enkele van sy gunsteling liedjies sing.
Sondag sal weer vanjaar ‘n volwaardige feesdag wees, met stalletjies en ‘n fantastiese “Legendes” middaguur -konsert geborg deur Rapport op die feesterrein. Immergroen kunstenaars soos Sonja Heroldt, Rina Hugo, Min Shaw en Lance James tree hierin op. As jy nostalgies is oor die goeie ou dae is hierdie konsert beslis ‘n moet!
Sondagaand word die fees oudergewoontle afgsluit met die ATKV Loof Hom Innibos gospelkonsert. Bobby van Jaarsveld, Oom Karoolus en Lente en die bekende lofprys-kunstenaar, Retief Burger,sal onder andere in hierdie gratis konsert optree.
Op die toneel en komedie-front is daar natuurlik ook baie om oor opgwonde te raak. Casper de Vries gaan vir die eerste maal in die fees se geskiedenis by Innibos optree in Bloemers en Roemers saam met Shaleen Surtie Richards en Karen Wessels. Tobie Cronjé, wat in Sing saam met Terrence bridget en Lizz Meiring gehore landwyd bekoor het, is ‘n besliste keuse op die program. Anna-Mart van der Merwe is te sien in die uitstekende produksie, god van chaos , Chris Vorster en Hennie Jacobs is in Vrydag is Skeidag en die TV hartebreker Altus Theart in Hoe ‘n Man se kop werk. Marius Weyers is op sy beste in die stuk Adam September en die Nazi –skat, ‘n teater avontuurverhaal en die eerste verhoogproduksie van die TV-program Proesstraat gaan beslis die lagspiere prikkel.
Die ontroerende Dinsdae met Morrie, met Chris van Niekerk en Pedro Kruger is ‘n kragtoer wat teaterliefhebbers beslis moet sien, en Betésda, waarin Neels van Jaarsveld te sien is, is ‘n omgewingspesifieke drama wat by ‘n swembad paasvind. Beide hierdie stukke het voor uitvekoopte gehore by die KKNK gespeel. Die bekroonde dramaturg Deon Opperman se briljante stuk, My Sarie Marais met Hanlie Rofes en Deon Coetzee in die rolverdeling is ook ‘n móét sien produksie op vanjaar se program.
n Middernag-vertoning va Nipplecaps en G-strings met die bekende (of is dit berugte?) Gigi in die titelrol word as middrnagvertoning aangebied in pas met die “ingepropte tema.”
Die immergewilde DEKAT Boeke-Crawl bied weer ‘n unieke woord- en musiekervaring in Kaapsehoop aan. Met Alexa Stachan, Rachelle Greeff, Chris van Niekerk, Pedro Kruger, Jak de Priester, Milan Murray, Gerald Clark en Anna-Mart van der Merwe as deel van hierdie woorde, boeke-en musiekkuier in Kaapschehoop is dit ‘n fees wat niemand sal wil misloop nie. Die ATKV geborgde produksie, Oopmond, met verkeie digters en musikante en ‘n aantal boekeproduksies wat by DIE STOEP aangebied word verskaf Vanjaar se Innibos filmfees vereer die rolprentmaker, Dirk de Villiers. Kom kyk gerus na ou bekende en nostalgiese rolprente soos Die geheim van Nantes, My broer se Bril en Jy is my liefling met Min Shaw. Dit word gratis op die feesterrein aangebied.
Kunsuitstallings deur onder andere die feeskunstenaar vir 2010, Pieter Binsbergen asook bekendes soos Guy de Toit, Angela Banks en Evette Weyers sal verseker dat kunsliefhebbers ook hul porsie inkry. Verkeie galerye is op die feesterrein verteenwoordig en die kunstekronkel, waar by verkeie plaaslike ateljees en uitstallings aangedoen kan word is ook weer op die program.
Musiekliefhebbers word natuurlik nie oor die hoof gesien nie en kan uitsien na ‘n vertoning deur Chris Chameleon vertoning en ‘n klassieke program met Wim Viljoen, Zanta Hofmeyr en Dewald von Solms. Koos Kombuis en Nicole Holm in Volk, Vergenoeg met Sandra Prinsloo, Kook en Stook met Lucas Maree en Lochner de Kok, die Rolmodelle, Jak de Priester en Baby as ek verby ry met Dana Snyman en Klopjag bied verdere puik musiekverskeidenheid.
Een van die grootse veranderinge op die feesprogram is dat die gewilde rockprogram vanjaar na ‘n fantastiese nuwe venue op die feesterrein by Bergvlam verskuif. By MK KLIPHARD, soos die venue bekend gaan staan, gaan gewilde groepe soos New Holland, Van Coke Kartel en Foto na Dans vanaf Donderdagaand sorg dat rockmusiek ook op die Innibos feesterrein sy regmatige plek inneem. Die mees opwindende feit is dat toegang tot die rockvenue heeltemaal gratis is. Almal wat reeds hul toegang tot die Innibos feesterrein betaal het, kan dus gedurende die fees elke dag se rock-program bywoon sonder om ‘n ekstra kaartjie daarvoor te koop.
Vir die kleingoed is daar natuurlik weer die gewilde Apies Innibos venue en drie fantastiese kinderproduksies soos Lollos, Broer Manie se Melk word Suur en Klaas Vakie in Blinkersandbos.
Die feesterrein se wye verskeidenheid topgehalte stalletjies, heerlike eetplekkies, rusplekke en die pretpark dra alles by tot ‘n feestelike atmosfeer. Die vier oop verhoë op die feesterrein wat vanaf 10 uur soggens vermaak verkaf, verseker verder dat die fees-gees heeltyd 100% hoog bly.
Die fees word vanjaar vir die eerste maal in ‘n September tydgleuf aangebied omdat die normale Innibbos tydgleuf met die FIFA Wêreldbeker oorvleuel het, en die feesterrein by Bergvlam ook nie beskikbaar was nie. “Die September tydgleuf skep beslis ‘n paar uitdagings, maar een van die groot voordele van die nuwe tydgleuf is dat die fees nou vir die eerste maal oor ‘n langnaweek plaasvind. Ons verwag dus dat Vrydag 24 September ook rekord- bywoning sal geniet”, sê Sandra Jacobs, , die fees woordvoerder. “Die fees is wel ‘n dag korter as gewoonlik, maar ons beoog om met vele interessanthede soos enkele middernag-vertonings en ‘n absolute uitsoek feesprogram te vereker dat feesgangers ongelooflike waarde by Innibos sal vind,” sê sy.
Vanjaar is Innibos behoorlik propvol opwinding en vermaak – vandaar die feestema vir 2010, “INGEPROP”. Die feesprogram is nie net boordensvol kyk- en luistergenot nie, maar die opwinding van ‘n vinnige pas en opwindende feesskedulering sal aanvoelbaar wees. Feesgangers moet maar sorg dat hulle genoeg koffie of energiedrankies byderhand het, want vir slaap sal daar bitter min tyd wees!
Innibos Kaartjieverkope open op 16 Augustus by Computicket landwyd. Vir meer inligting oor die fees, besoek gerus die webwerf www.innibos.co.za of skakel die feeskantoor by 013-741 5294
What's happening at the Emnotweni Arena